Book Description
Sedert die stigting van Stellenbosch en sy distrik in 1679, het slawerny 'n integrale rol in die ekonomiese en sosiale ontwikkeling van die gemeenskap gespeel. Op 1 Desember 1834 is hierdie stelsel, soos in die res van die Britse koloniale ryk, afgeskaf. Die afskaffing van slawerny het egter geen onmiddellike gelykstelling met die middelklas beteken nie - die gewese slawe moes tot 1 Desember 1838 steeds as 'ingeboekte vakleerlinge' (apprentices) in die diens van hul voormalige eienaars bly. Gedurende die vier jaar het daar min opleiding plaasgevind wat hulle werklik vir arbeid in die ope mark sou bekwaam. Ook na Desember 1838 het die Britse owerheid sy plig versaak om op daadwerklike wyse by te dra tot die opheffing en verbetering van die nagenoeg 36 000 individue se lewensomstandighede. Hierdie taak is deur verskillende sendinggenootskappe met beperkte finansiele bronne, verrig. Enkele slawe het wel die voorreg gehad om in daardie tyd skoolopleiding te ontvang. Dit was egter nie onderwys en geletterdheid wat aanvanklik tot ekonomiese vooruitgang gelei het nie, maar eerder die beoefening van ambagte soos messelary, smidswerk en wamakery.In Amsterdam tot Zeeland word die unieke genealogiese afkoms van die Stellenbosse slawe en die oorsprong van die bruin gemeenskap bestudeer. Die menings hierin opgeneem word gerugsteun deur die verwerking van oorspronklike dokumente uit die Kaapse Argief wat op die ingeslote kompakskyf gelees kan word.